Die Familienaam en Wapen
Die Familienaam
Tot omtrent die middel van die 11e eeu het mense nie vanne gehad nie. Elkeen het slegs ‘n enkele naam gehad wat hom identifiseer het. Dit het gewerk terwyl die gemeenskappe nog klein was, maar met verloop van tyd was hierdie praktyk nie meer goed genoeg nie, en is mense later van mekaar onderskei met bykomstige name of beskrywings.
Daar is ‘n eindelose verskeidenheid van bronne vir hierdie bykomstge name. Byname, fisiese eienskappe, dorpsname, streke, lande, beroepe, voorwerpe, kleure, landmerke, verwantskappe, voorkoms, gewoontes, ens – omtrent enigiets wat die mens in sy vindingrykheid kon uitdink, is gebruik.
Na omtrent 1066 het die Normandiese baronne in Engeland begin om hierdie bykomstige name nie aan individue toe te ken nie, maar aan families, en die gebruik het stelselmatig uitgebrei na ander lande. Teen die einde van die 14e eeu was die gebruik van familiename reeds goed gevestig in Europa, maar in Engeland was die proses nog aan die gang tot amper in die 16e eeu.
Baie mense het hulle vanne verander – dikwels nie vir onskuldige redes nie. As gevolg van ongeletterdheid en emigrasie na ander lande en tale, is die oorspronklike name ook dikwels verkeerd gespel, verdraai of vertaal, en in die proses soms onherkenbaar verander.
Vir ons stamvader was dit nie anders nie. Dit word algemeen aanvaar dat hy Jürgen Hanekom geheet het, maar aan die Kaap het hy self sy naam geteken as Jors Hannekoom, of Jurgen Hannekom. In amptelike rekords is hy aangeteken met voorname soos Joris, Jurgen, Jurrien en Jurriaan, en is die van soms in dieselfde dokument verskillend gespel. Vorms soos Hanekom, Hanekoom, Hanekum, Hanekam, Hanecam, Hanecom, Hannekoom en Hannekom word telkens aangetref. In die enigste kerkrekord van geboortes en huwelike uit die tyd wat ek in Sulingen kon opspoor, is die naam as Hannekohm aangeteken.
In my soeke na Jürgen voorvaders en sy regte van het ek in die jare vG (voor Google) elke moontlike soekenjin gebruik om na Hanekom en Rathlosen te soek, en my so na die Duitse telefoongids gewend. In 2000 kon ek egter net een persoon, Dora Hanekom, daarin vind. Ek het vrugteloos op elke beskikbare kuiernet navraag gedoen oor Hanekom en Rathlosen, totdat iemand in Rathlosen my in dieselfde jaar laat weet het dat sy buurvrou voor haar troue ‘n nooi Hannekum was, en gewonder het of dit nie vir my ‘n antwoord was nie….
Skielik het die prentjie vir my verander, want die uitspraak van ‘Hannekum’ in Duits is baie naby aan die Hollandse ‘Hannekoom’ van Jürgen aan die Kaap. En daar was heelwat Hannekums in die telefoongids in die omgewing van Rathlosen. In die nuutste Gelbeseiten kry ek die volgende
* Hanekom 1 (My seun)
* Hanekam 1
* Hanekamp 157 (Bykans almal in die omgewing van Cloppenburg, ten weste van Bremen, noord van Sulingen)
* Haneke 124 (Bykans almal in ‘n strook dorpe, insluitend Rathlosen en Sulingen, tussen Dortmund en Hannover)
* Hanneke 29 (Wyd versprei, maar hoofsaaklik tussen Frankfurt en Hannover)
* Hannekum 38 (Byna almal in die gebied tussen Sulingen en die ooste van Bremen)
Hierdie sterk konsentrasie van name in dieselfde gebied dui op ‘n sterk moontlikheid dat daar tog een of ander familieverband tussen hulle mag bestaan in die vroë Europese geskiedenis, asook met die name waarna in Kyle Hanekom se Webwerf verwys word. Dit is iets wat verder ondersoek sal word.
Die Familiewapen
Ek het ons familiewapen baie jare gelede vir die eerste keer in die eetkamer van my Oupa Hansie in Christiana gesien, en weet nie waar dit tans is nie. Behalwe vir die banier met die Franse inskrywing aan die bokant (‘n kommersiële byvoeging?) is dit egter soos ek dit onthou, kleure en al. Ek probeer die heraldiese egtheid daarvan bevestig, maar tot dusver het die SA Heraldiese Buro nognie op my versoek reageer nie.
Oorsprong van familiewapens
Daar is ‘n hele verskeidenheid van terme wat vir hierdie embleem gebruik word. Woorde soos Family Crest, Coat Of Arms, Armorial Bearings, ens, word in Engels gebruik, in Afrikaans praat mense van Familiewapens, Familieskilde, ens, en in Duits kry ons die woord Wappen. WikiPedia het dalk netso ‘n goeie beskrywing van die oorsprong en gebruik van hierdie embleem as ander bronne, en jy kan gerus daar besoek aflê vir meer inligting.
Ek weet nie tot watter mate ons familie kan aanspraak maak op die gebruik van ‘n familieskild nie, want ek kon nog niemand in ons voorsate opspoor wat dit nodig gehad het om homself op hierdie manier te identifiseer nie. Ek het iewers ‘n bewering raakgeloop dat die lankvergete Suidafrikaanse weeklikse tydskrif ‘Die Brandwag’ in ‘n reeks uitgawes die familiewapens van Suidafrikaanse families bespreek het, en die wapens publiseer het. Ek het wel die tydskrif gelees – het om die waarheid te sê uit hom leer lees – maar kan geen kommentaar oor die bewering lewer dat hulle kunstenaars gebruik het om vir elke Jan Rap en sy maat familiewapens te ontwerp nie.
Hoe dit ook al sy, moderne praktyk verhoed ons nie om die wapen te gebruik nie, en hier is hy as jy hom op briefhoofde en besigheidskaartjies wil gebruik, of om ‘n afdruk te maak vir jou eetkamermuur.
Ander familiewapens
Familiewapens word aan familiename gekoppel, en omdat daar ander moontlikhede bestaan vir vorms van die van Hanekom, is daar ook ander variante van familiewapens beskibaar. Ek plaas sommige van hulle hier sonder verdere kommentaar.
