Hanekom Family

Die Familie Hanekom

Hierdie webwerf is die resultaat van my navorsing oor 'n periode van omtrent 10 jaar.

Ek het as amateur met die besigheid begin sonder om te weet waaroor dit werklik gaan, en begin om name, datums en verwantskappe aan te teken. Net dit. Wou eintlik net vir my kinders 'n geslagsregister opstel soos die wat 'n mens altyd in die groot familiebybels gekry het, en hoe meer ek gekrap het, hoe meer het die gogga my gebyt. Die projek het vir my nog meer belangrik geword as gevolg van die wye verspreiding van my eie kinders en kleinkinders oor die węreld, en veral omdat my kleinkinders gevolglik gaan grootword sonder kontak met neefs en niggies – of selfs hulle Oupa en Ouma. Dank die liewe Vader vir tegnologië soos die internet, e-pos en Skype wat ons instaat stel om tog oor derduisende myle kontak te behou en deel te hę aan hulle lewens!

Die belangrikheid om inligtingsbronne te dokumenteer, en om die stamboom uit te brei met foto’s en dokumente soos trou- en geboortesertifikate, begrafnis- en boedelkennnisgewings, sertifikate, diplomas, en al die administratiewe papierwerk wat ons lewens beskryf, het eers later gekom.

As gevolg van 'n gebrek aan direkte toegang tot argiewe en die koste verbonde aan die gebruik van professionele navorsers vir sulke take is daar dus nog bitter weinig bronne aangehaal. Dit sal egter met mettertyd ook aandag kry. Enige bydraes en regstellings sal waardeer word sodat hierdie webwerf met die loop van tyd 'n waardevolle bron van inligting kan word vir enigeen wat belangstel in die geskiedenis van ons familie.

Vir die doel van my navorsing is dit belangrik om so wyd as moontlik inligting bymekaar te maak, m.a.w. sover terug in die geskiedenis as wat enigiets bekend is, en so wyd as moontlik, met ooms, tantes, neefs, niggies, ens, almal ingesluit. Hoe vollediger hoe beter, uit die aard van die saak, maar geen bydrae sal gering beskou word nie. En moet asseblief nie die vroulike lede van die familie vergeet nie - sonder moeders en oumas sou daar maar min Hanekoms wees, en hulle voorsate is dus ewe belangrik!